top of page
Viam Dei
Viam Dei Retreats
Image by freestocks

Wat is Viam Dei?

Viam Dei is die spiritualiteitsbediening van die Ooskerk. Dit sluit die Viam Dei kursus & program, Retreats en die Laudate diens ('n kontemplatiewe aanbiddingsgeleentheid).


Jy kan aanvanklik inskakel by ons jaarlange program en daarna verder die pad saam met ander gelowiges stap in 'n kleingroep. Viam Dei wil 'n ruimte bied waarbinne jy al meer bewus kan word van God in en om jou lewe, waarin jy geestelik kan groei deur meer en meer God se mens tussen ander te wees en waar jy op 'n diep vlak innerlik getransformeer kan word tot die nuwe mens wat ons reeds in Jesus Christus is. 


Kom stap saam die Viam Dei pad!

Wat is die kontemplatiewe spiritualiteit?

Die kontemplatiewe spiritualiteit wil ons help om dit wat ons glo te integreer met alle aspekte van ons lewe. Ons word geleer om God in alles raak te sien. Om intens bewus van God te leef. Om sommer net oor die algemeen bewus te leef. Om te weet dat al die skakerings van die lewe, die mooi en die seer, die lekker en die swaar, deel is van ‘n groter prentjie. 

 

Dit wil my help om te weet dat God my in alles ontmoet en dat alles in my lewe heilig is, ook daardie dele van my lewe wat ek soms eerder sal wegsteek. 

 

Dit laat my sien dat ek nie my lewe in heilige en onheilige kompartemente hoef te leef nie, maar juis om in alles al meer soos God se soort mens te lyk. 

 

Ek word genooi om die manier hoe ek leef te verander deur dieper te lewe. Dit vergroot my kapasiteit vir die kompleksiteit van die lewe. 

 

Die kontemplatiewe spiritualiteit leer my om intensioneel met my lewe om te gaan en om ritmes van genade in my lewe in te bou, waarbinne God my kan ontmoet; waarbinne ek tot stilstand en tot rus kan kom en op ‘n diep manier oor my lewe kan reflekteer. 

 

Kontemplatiewe geloofspraktyke soos intensionele stilte en afsondering, kontemplatiewe gebed, ‘n dieper lees en verstaan van die Bybel is belangrike komponente van die kontemplatiewe spiritualiteit. 

 

In die kontemplatiewe spiritualiteit leer ek dat God my van binne af wil nuut maak en transformeer en graag sal wil sien dat ek in my interne lewe sal floreer, al verander my omstandighede nie. Ek groei stelselmatig daarin om 'n gesonde, heel, wyse, geïntegreerde mens te wees wat emosioneel en geestelik ewe volwasse en gesond is en na buite uitleef.

bottom of page